Baanresonansie van 1:1
In die sterrekunde dui 'n baanresonansie van 1:1, of 'n koörbitale konfigurasie, op twee of meer voorwerpe (soos asteroïede, mane of planete) wat op dieselfde afstand van hulle moederliggaam wentel (of 1:-1 as hulle teenoorgestelde rigtings het).[1]
Verskillende klasse sulke voorwerpe word aangetref. Die bekendstes is trojane, wat om die twee stabiele Lagrange-punte (L4 en L5, wat onderskeidelik 60° voor en agter die groter liggaam lê) wentel. Nog 'n klas is die hoefysterwentelbaan, waar voorwerpe omtrent 180° van die groter liggaam af wentel. Voorwerpe wat om 0° wentel, word kwasisatelliete genoem.[2]
'n Wisselwentelbaan kom voor wanneer twee koörbitale voorwerpe 'n soortgelyke massa het. Die voorwerpe kan halwe lengteasse of eksentrisiteite omruil wanneer hulle naby mekaar kom.
Trojane

Trojane wentel 60° voor (L4) of agter (L5) 'n groter voorwerp. Die bekendstes is die groot aantal trojane wat voor of agter Jupiter om die Son beweeg. Trojane bly nie presies by enige van die Lagrange-punte nie, maar bly relatief naby en lyk of dit om die punt wentel. In tegniese terme libreer hulle om = (±60°, ±60°). Die punt waarom hulle libreer, is dieselfde, ongeag hulle massa of eksentrisiteit.[2]
Trojaankleinplanete
Daar is 'n paar duisend bekende trojaankleinplanete wat om die Son wentel. Die meeste kom by Jupiter se Lagrange-punte voor. Hulle is die tradisionele Jupiter-trojane. Teen 2015 was daar sover bekend ook 13 Neptunus-, 7 Mars-, 2 Uranus- en 2 aardtrojane. Die eerste Saturnus-trojaan wat ontdek is, was 2019 UO14.
Trojaanmane
Die Saturnus-stelsel het twee stelle trojaanmane. Tetis en Dione het elk twee trojaanmane: onderskeidelik Telesto en Kalisto by Tetis se L4- en L5-punt, en Helena en Poludeukes by Dione se L4- en L5-punt.
Poludeukes is bekend vir sy wye librasie: Dit dryf tot ±30° weg van sy Lagrange-punt en ±2% van sy gemiddelde wentelradius.
Vorming van die Aarde-Maan-stelsel
Volgens die reusebotsingshipotese het die Maan gevorm ná 'n botsing van twee koörbitale voorwerpe: Theia, wat vermoedelik 'n massa van sowat 10% van dié van die Aarde gehad het (omtrent dieselfde as Mars) en die proto-Aarde. Hulle wentelbane is deur ander planete ontwrig, wat Theia uit sy trojaanposisie gebring en die botsing veroorsaak het.
Hoefysterwentelbane


Sjabloon:Legend0Sjabloon:·Sjabloon:Legend0Sjabloon:·Sjabloon:Legend0
Voorwerpe in 'n hoefysterwentelbaan libreer om 180° van die hoofliggaam. Hulle wentelbane omsluit albei gelyksydige Lagrange-punte (L4 en L5).[2]
Koörbitale mane
Saturnus se mane Janus en Epimeteus deel 'n wentelbaan. Die verskil in hulle halwe lengteasse is minder as enige van die mane se gemiddelde deursnee. Dit beteken die een met die kleiner halwe lengteas haal die ander een stadigaan in. As dit gebeur, trek die mane gravitasioneel aan mekaar; dit vergroot die halwe lengteas van die maan wat die ander een ingehaal het en verklein die ander een s'n. Dit keer hulle relatiewe posisies om, in verhouding tot hulle massas, en laat hierdie proses weer begin met die mane se rolle omgekeer. Met ander woorde, hulle ruil effektief wentelbane uit.
Aarde se koörbitale asteroïede
'n Paar asteroïede is koörbitaal met die Aarde. Die eerste een wat ontdek is, 3753 Cruithne, wentel om die Son met 'n periode van effens minder as een aardjaar, wat dit van die Aarde af laat lyk soos 'n boonvormige wentelbaan wat gesentreer is om 'n posisie voor dié van die Aarde. Dié baan beweeg geleidelik verder voor die Aarde se wentelposisie uit. Wanneer Cruithne se wentelbaan beweeg na 'n posisie waar dit agter die Aarde aan beweeg, eerder as om daarvoor uit te beweeg, vergroot die Aarde se swaartekrag die wentelperiode, en die wentelbaan begin agter raak en beweeg terug na sy oorspronklike posisie. Die volle siklus van 'n posisie voor tot 'n posisie agter die Aarde duur 770 jaar. Dit lei tot 'n hoefystervormige beweging met betrekking tot die Aarde.[3]
Nog nabyaardevoorwerpe met soortgelyke wentelbane is sedertdien ontdek. Hulle sluit in 54509 YORP, Sjabloon:Mp, Sjabloon:Mp, Sjabloon:Mp, Sjabloon:Mp en Sjabloon:Mp. Die enigste twee geïdentifiseerde aardtrojane is Sjabloon:Mpl en Sjabloon:Mp.
Die Hungaria-groep asteroïede in die asteroïedgordel is bevind as een van die moontlike bronne van koörbitale voorwerpe van die Aarde met 'n leeftyd van ~58 000 jaar.[4]
Wisselwentelbane
In plaas daarvan om halwe lengteasse uit te ruil, soos Saturnus se mane Epimeteus en Janus, kan twee voorwerpe dieselfde as deel, maar eksentrisiteite uitruil.[5]